TIME Graad R

Boodskap 10

Voorgee-spel, byvoorbeeld winkel-winkel speel of kamma-kosmaak, is ʼn prettige manier vir kinders om hulle te verbeel hulle is iemand anders wat aan verskillende aktiwiteite deelneem. Voorgee-spel help kinders om hul wêreld en die dinge wat hulle om hulle sien gebeur, te verstaan. Dit help kinders ook om verskillende ervarings te verbeel waaroor hulle kan gesels of skryf.

Klik hieronder om na die teks te luister

Jong kinders geniet dit om stories deur voorgee-spel oor te vertel. Hierdie soort spel help hulle om na te dink oor die wêreld om hulle, en om dit te verstaan. Dit help ook om hul verbeelding te ontwikkel.

Voorgee-spel help kinders om stories te verbeel wat hulle vir ander kan vertel en uiteindelik kan neerskryf. Voorgee-spel sal meer pret wees as jou kind rekwisiete het wat pas by die storie wat sy uitbeeld.

As jou kind byvoorbeeld voorgee om sop te maak, kan sy iets groot en rond as ʼn soppot en ʼn stok as ʼn soplepel gebruik. Klein voorwerpe soos blare of groente kan in die pot geroer word terwyl sy voorgee om kos te maak soos sy die volwassenes in haar huis sien doen.