TIME Graad 1
Boodskap 1
Dit is nou die tyd om saam te leer in ‘n uitnodigende, vriendelike ruimte.
Klik hieronder om na die teks te luister
Die tyd het aangebreek vir jou en jou kind om saam pret te hê en te leer met die TIME-program. Kies saam ʼn stil, gemaklike plek en ruim 30 minute in om sonder onderbrekings saam te werk.
Maak skryfbehoeftes bymekaar en sit dit in ʼn houer sodat dit altyd byderhand is. Dit kan ʼn potlood, vetkryte of inkleurpotlode, skoon papier of ʼn tekenboek, ʼn skêr en gom insluit. Dit sal handig wees om ook wondergom of kleeflint te hê sodat jy jou kind se werk kan opplak as daar plek is.Read More
TIME Graad 1
Boodskap 2
Die Klein Boekie-stories bevat eenvoudige sinne wat met die prente op elke bladsy verband hou. Jy kan die boekies versamel en in ʼn houer bêre sodat jou kind sy eie klein biblioteek het om enige tyd te geniet. Klein boekies maak storietyd pret!
Klik hieronder om na die teks te luister
Nadat jy die klein boekie gevou het, blaai daardeur en gesels met jou kind oor elke prent. Lees dan die titel van die boekie en die sinne op elke bladsy. Wys na die woorde terwyl jy lees.
Moedig jou kind aan om saam met jou te lees, en as jou kind selfversekerd genoeg is, kan hy die boek op sy eie lees terwyl hy na elke woord wys.
Gee jou kind altyd kans om uit te werk wat ʼn woord sê en lees dan die woord vir hom as hy dit nie kan uitwerk nie. Moet hom nooit te lank laat sukkel nie.
Video: Hoe om ‘n klein boekie te vou
TIME Graad 1
Boodskap 3
Speel die alfabetspeletjie – ʼn prettige manier waarmee jou kind kan leer hoe die letters van die alfabet lyk en watter klank elke letter maak. Neem jou tyd, moenie haastig wees nie en geniet dit om saam met jou kind te leer.
Video: Alfabetspeletjie
TIME Graad 1
Boodskap 4
Kinders moet dink en beplan wanneer hulle skryf en teken. Hulle geniet dit, en dit is regte breinwerk!
Klik hieronder om na die teks te luister
Wanneer kinders teken, besef hulle dat iets deur ʼn prent op papier voorgestel kan word. Dit is ʼn belangrike stap vir jong kinders. Dit is belangrik om kinders in hierdie fase aan te moedig en te ondersteun, en nie hul tekeninge te kritiseer of hulle te vra om dit te verbeter deur jou tekening na te boots nie. Dit verg tyd en oefening in ʼn veilige ruimte om nuwe vaardighede aan te leer. As ons vir kinders se foute lag of hulle in die verleentheid stel, sal hulle dalk nie dapper genoeg voel om weer te probeer nie.
Help jou kind om eers te dink wat sy wil teken en laat haar dan probeer. Gee haar altyd genoeg tyd om woorde te probeer spel terwyl jy haar lei. As jou kind reeds ʼn paar letters en die klanke wat elkeen maak, kan herken, kan jy haar aanmoedig deur te vra, “Met watter klank begin daardie woord? Weet jy hoe om daardie letter te skryf? Watter klank kom volgende?” Moet nooit jou kind laat sukkel sonder dat jy haar help nie. Onthou, dit is belangrik dat jou kind gelukkig voel en vertroue in haar skryfvermoë het, en dat sy nie voel sy word getoets en dat sy elke woord reg moet kry nie. Jou kind sal dalk letters uitlaat en woorde verkeerd spel, en dit is in orde. Jou kind se skryfvermoë sal met verloop van tyd verbeter. Prys haar dus gereeld en moedig haar aan op haar reis om ʼn skrywer te word.
Prys jou kind se pogings en probeer om haar nie te korrigeer nie. Dit is vir haar meer pret as sy sukses behaal, en wanneer dit pret is, sal sy meer gereeld oefen en gemotiveerd wees om aan te hou skryf.
TIME Graad 1
Boodskap 5
Gebruik die TIME-dobbelsteen om saam met jou kind te oefen om te tel.
Klik hieronder om na die teks te luister
Elke oomblik is ʼn leeroomblik vir ʼn jong kind. Betrek jou kind wanneer jy die dobbelsteen maak en vou deur vir hom te verduidelik wat jy doen. Hy kan jou help deur gom te smeer op die flappe wat opmekaar geplak moet word, en dalk wil hy die kolletjies inkleur of versier.
Vra jou kind om die dobbelsteen te gooi en om te raak aan die kolletjies wat na bo wys. Help hom dan om te tel hoeveel kolletjies daar is. Jou kind leer nog van getalle en tel, so lei hom geduldig en moenie verwag dat hy alles reg gaan kry nie.
Raak aan elke kolletjie, tel hulle saam met jou kind en vra hom dan om iets fisies te doen soos om sy hande te klap, te spring, sy kop te knik of op die tafel te klop om te wys hoeveel kolletjies julle saam getel het. Drie kolletjies beteken byvoorbeeld drie klappe of drie spronge. Bestee net ʼn paar minute aan hierdie aktiwiteit. Doen dit saam met jou kind en hou dit vrolik en prettig.
TIME Graad 1
Boodskap 6
Jong kinders leer uit alles wat hulle om hulle sien en hoor en daarom is dit belangrik om hulle te help om hul vermoë te ontwikkel om goed te kan kyk en luister. Kyk- en luisterspeletjies bied kinders talle geleenthede om te oefen om te kyk en luister.
Klik hieronder om na die teks te luister
Kinders moet oefen om goeie luisteraars te word. Met goeie luistervaardighede kan kinders verstaan waarvan iemand praat, hulle kan instruksies volg en hulle kan take voltooi.
Goeie kyk- en luistervaardighede sal jou kind help om klaskamertake suksesvol af te handel. Die vermoë om die verskille in klanke in woorde te hoor, is verder ʼn belangrike vaardigheid wat kinders moet hê wanneer hulle leer lees en skryf. Die Letterslang-speletjie gee jou kind kans om pret te hê terwyl sy leer van letters en die klanke wat hulle maak.
TIME Graad 1
Boodskap 7
Onthou om ʼn stil, gemaklike ruimte te vind. Kyk deur die aktiwiteite voordat jy 20 minute opsy sit om met jou kind te werk. Dit is ontspanne leertyd waartydens jy jou kind se selfvertroue kan ontwikkel deur kommentaar soos “Ek hou van hoe jy dink” en “Hou aan probeer” te lewer.
Klik hieronder om na die teks te luister
Kinders benodig baie oefening om te leer om letters en syfers te skryf. ʼn Prettige en nuttige manier is om dit met verskillende instrumente te skryf, en nie net potlood en papier nie.
Jy kan ʼn stok in sand of jou vinger in ʼn bord rys of suiker gebruik. Jy kan kryt op ʼn muur of plaveisel gebruik. Speeldeeg kan vinnig en met min moeite gemaak word en is nog ʼn prettige manier om te oefen om letters en syfers te vorm. Onthou, daar is ʼn maklike speeldeeg-resep op die TIME-ouerplakkaat.
TIME Graad 1
Boodskap 8
Teken en skryf is belangrike maniere waarop kinders leer om hul gedagtes en idees uit te druk. Hulle moet talle geleenthede kry om dit te doen. Laat jou kind sien hoe jy skryfwerk in jou daaglikse roetine gebruik, byvoorbeeld om inkopielyste, verjaardagkaartjies, boodskappe aan die onderwyser en selfs selfoon-teksboodskappe te skryf.
Klik hieronder om na die teks te luister
Nadat jou kind ʼn prent geteken het, vra haar om oor haar prent te gesels en dan iets daaroor te skryf. Gee jou kind kans om te probeer om woorde te spel terwyl jy haar lei, maar moenie haar laat sukkel as sy voel sy kan dit nie doen nie. Help jou kind deur haar te vra om die eerste klank van die woorde te probeer skryf.
As sy angstig daaroor raak om self te skryf, vra haar of jy dele van haar storie namens haar kan skryf. Skryf haar woorde woord vir woord neer sodat sy kan sien dat elke woord geskryf word. As jy met haar gesels oor wat sy skryf, sal sy voel dat dít wat sy te sê het belangrik is en dat jy waarde daaraan heg. Dit sal haar selfvertroue laat ontwikkel sodat sy sal wil aanhou skryf en sal haar voorberei op die vaardighede wat sy in haar skool- en huisomgewing moet gebruik.
TIME Graad 1
Boodskap 9
Kinders is lief daarvoor om hul menings te deel en hou daarvan as volwassenes belangstelling toon in dít wat hulle te sê het. Die Groot prentstories bied jou kind die geleentheid om nuwe woorde te leer en vrae te vra, en ʼn kans om sy denk- en redeneringsvaardighede te ontwikkel.
Klik hieronder om na die teks te luister
Wanneer jy en jou kind saam met die Groot prent storie werk, gebruik die vrae wat ons verskaf om ʼn verdere gesprek oor dít wat hy sien aan te moedig. Wedersydse gesprekke, en nie “ja”- of “nee”-antwoorde nie, sal jou kind se taalvaardighede ontwikkel. Moedig jou kind ook aan om te gesels oor hoe die dinge in die prent hom aan sy eie ervarings herinner.
Jy kan hierdie voorbeelde gebruik: Wat sal gebeur as …?
Verduidelik vir my hoekom jy so dink. Wat dink jy hiervan?
My gunstelingdeel is … Wat is jou gunstelingdeel?
Dit laat my dink aan daardie keer toe ons … Aan wat laat dit jou nog dink?
Dit is nie altyd maklik vir kinders om hul gedagtes te verduidelik nie. Gee jou kind tyd om na te dink oor dít wat hy in die prent sien en om dit in woorde uit te druk. Prys sy antwoorde, selfs al gee hy net eenwoord-antwoorde.
TIME Graad 1
Boodskap 10
Party stories het min prente waarna jou kind kan kyk terwyl jy vir haar lees, of selfs geen prente nie. Sulke stories moedig kinders aan om self die besonderhede te verbeel. Sit gemaklik saam met jou kind en geniet die storie wat ons opgeneem het.
Klik hieronder om na die teks te luister
Dit is belangrik dat kinders leer om na stories te luister sonder die hulp van prente.
Die vermoë om goed te luister, sal jou kind in staat stel om nuwe woorde te hoor, haar begrip van dinge wat sy hoor, verbeter, en sal help met die belangrike kommunikasievaardighede van praat en lees.
Wanneer jy ʼn storie lees, behou jou kind se belangstelling deur verskillende stemtone te gebruik om haar te help om die opwindende en hartseer dele en ʼn karakter se woorde op te let.
Wanneer julle na ‘Skilpad vind sy huis’ luister, let op hoe jy jou kind kan help om gefokus te bly en die storie te geniet. Dit maak nie saak as jou kind reeds hierdie storie gehoor het nie, want kinders geniet dit om dieselfde storie meer as een keer te hoor.
Die verhaal oor Skilpad vind sy huis
TIME Graad 1
Boodskap 11
Bordspeletjies saam met jou kind is ʼn kans vir hom om pret te hê terwyl hy leer en waardevolle tyd met jou deurbring. Geniet dit om die Woordvoël-speletjie saam te speel!
Klik hieronder om na die teks te luister
Wanneer julle die Woordvoël-speletjie speel, moet jou kind aan woorde dink wat met verskillende klanke begin. Lei hom geduldig as hy nie aan ʼn woord kan dink nie.
As hy byvoorbeeld sukkel om aan ʼn woord te dink wat met /p/ begin, kan jy sê: “Ja, dit is /p/. Kom ons kyk in die kamer rond en sien of ons iets kan vind wat met /p/ begin.” Of, “Ken jy iemand wie se naam met /p/ begin? Pappa? Ja, dis ʼn goeie woord! Baie mooi! Pappa begin met /p/.” Jy kan jou kind aanmoedig om in die kamer rond te kyk vir woorde of om aan mense wat hy ken se name te dink.
Geniet die bordspeletjies saam met jou kind. Prys hom en gebruik bemoedigende woorde terwyl julle speel.
Klik op die video hieronder om te leer hoe die spel gespeel word
TIME Graad 1
Boodskap 12
Teken en skryf is belangrike maniere waarop kinders leer om hul gedagtes en idees uit te druk. Gee hulle baie geleenthede om dit te doen. Wys vir jou kind voorbeelde van skrif om haar en laat haar sien hoe jy in jou daaglikse roetine skryf. Dit kan inkopielyste, verjaardagkaartjies, boodskappe aan haar onderwyser en selfs selfoonteksboodskappe wees.
Klik hieronder om na die teks te luister
Moedig al jou kind se skryfpogings aan, want sy leer om te kommunikeer wat sy dink en voel. Wys jou belangstelling en praat op ʼn positiewe manier met jou kind oor haar skryfwerk. Dit sal haar laat voel dat wat sy te sê het belangrik is. Dink aan geleenthede wanneer jou kind kan skryf.
Sy kan kaartjies maak, eenvoudige briewe skryf, haar naam op haar boeke skryf of jou help om inkopielyste te skryf. Gee jou kind altyd ʼn kans om te probeer om woorde op haar eie te skryf. Jy kan moeilike woorde op papier skryf sodat sy dit kan oorskryf as sy sukkel. Moedig jou kind aan sodat sy sal wil skryf en gee haar baie geleenthede om dit te doen.
TIME Graad 1
Boodskap 13
Die Slak-speletjie help kinders om drieletterwoorde in afsonderlike klanke te verdeel, en help hulle ook om klanke saam te voeg sodat hulle drieletterwoorde kan lees.
Klik hieronder om na die teks te luister
Wanneer kinders 12 letters ken, is hulle gereed om die letters saam te voeg om kort, maklike woorde te lees. Al die woorde in die Slak-speletjie is kort en kan geklank word.
Party kinders sal dalk sukkel om die middelste klank of die laaste klank te hoor. Hierdie speletjie is ʼn prettige manier om te oefen om die klanke in kort woorde te hoor en te lees. Dit kan gereeld gespeel word in die maande wat dit kinders neem om te leer lees. Onthou om nooit jou kind te lank te laat sukkel om die woorde uit te werk nie. As hy die speletjie geniet het en dit hom nie gespanne gemaak het nie, sal hy dit graag weer wil speel.
Klik op die video hieronder om te leer hoe die spel gespeel word
TIME Graad 1
Boodskap 14
Skep ʼn gemaklike, bemoedigende werkruimte vir jou kind. Dit sal haar help om makliker te kan konsentreer terwyl sy die aktiwiteite geniet.
Klik hieronder om na die teks te luister
TIME-aktiwiteite kan op byna enige plek gedoen word, mits jou kind op ʼn ferm oppervlak kan werk. As jy nie ʼn tafel het nie, sit die bladsy waarop jou kind werk op ʼn skinkbord, ʼn plank of ʼn boek met ʼn harde omslag. Onthou, kinders kan makliker dink, luister en fokus wanneer die TV of radio afgeskakel is terwyl hulle werk.
Ons het foto’s en video’s gesien van hoe gelukkig en selfversekerd kinders is wanneer hul ouers hul pogings en werk aanmoedig en prys. Verwelkom jou kind se antwoorde as sy vrae met slegs een of ʼn paar woorde beantwoord. Dit is nie nodig dat sy alle vrae in volsinne beantwoord of jou sinne naboots nie. Jou kind moet altyd haar spesiale leertyd saam met jou geniet.
TIME Graad 1
Boodskap 15
Het jy geweet dat kinders hul vingers kan gebruik om te leer tel en antwoorde op getalprobleme uit te werk? Om die waarheid te sê, baie kinders kan hul begrip van getalle op hul vingers wys nog voordat hulle die naam van die getal kan sê.
Klik hieronder om na die teks te luister
Moenie jou kind ontmoedig om sy vingers te gebruik om te tel en getalprobleme uit te werk nie. Hy is besig om ʼn goeie en doeltreffende manier te gebruik om homself te leer. Help jou kind om te tel of ʼn getalprobleem uit te werk deur verskillende voorwerpe te gebruik.
As die probleem byvoorbeeld oor lepels gaan om ʼn tafel te dek, gebruik dan regte lepels. As die probleem oor vrugte gaan wat tussen vriende gedeel moet word, gebruik dan regte vrugte. As jy nie werklike voorwerpe het nie, kan jy knope, wasgoedpennetjies en botteldoppies of klippies en blare uit die tuin gebruik.
TIME Graad 1
Boodskap 16
Die leer van hoëfrekwensiewoorde help jou kind om makliker te lees en skryf.
Klik hieronder om na die teks te luister
Hoëfrekwensiewoorde is baie nuttig, want ons sien en gebruik hulle die heeltyd. Alle hoëfrekwensiewoorde in isiXhosa, en sommige in Afrikaans en Engels, kan geklank word.
Maar uiteindelik moet jou kind hierdie woorde dadelik kan herken. In Afrikaans en Engels is daar baie woorde wat bloot gememoriseer moet word omdat hulle nie geklank kan word nie. Speletjies waarin hierdie nuttige woorde wat jou kind gereeld sal sien en gebruik, geoefen word, sal haar help om makliker te lees en skryf.
TIME Graad 1
Boodskap 17
Teken is die eerste stap in die proses om te leer skryf. Moedig jou kind aan om te gesels oor wat hy gaan teken.
Klik hieronder om na die teks te luister
Soms sal jou kind vir hulp vra wanneer hy ʼn prent teken. Hy voel dalk hy kan nie goed genoeg teken nie of dat jy die prent beter as hy kan teken. Help jou kind deur woorde en taal te gebruik wat hom sal help om vir homself voor te stel wat hy wil teken. As jou kind byvoorbeeld onseker daaroor voel om homself in wintersklere te teken, kan jy help deur dinge te sê soos, “Kom ons dink oor wat jy wil teken.
Het jy ʼn ronde kop of ʼn ovaal kop? Kan jy dit teken? Dra jy ʼn warm hoed op jou kop? Watter kleur is dit? Kan jy dit op jou prent teken?” Jou kind leer nog en sal dalk nie presies teken wat hy homself voorgestel het nie. Moedig hom altyd aan en prys sy pogings. Dit verg tyd en oefening om te leer om ʼn potlood te beheer en jou idees op papier te sit.
TIME Graad 1
Boodskap 18
Luister saam na die storie, Koketso se partytjieskoene.
TIME Graad 1
Boodskap 19
Vind die geskikte tyd om saam te leer
Klik hieronder om na die teks te luister
Sukkel jy om tyd in te ruim om jou kind se leer tuis te ondersteun? Jy vind dalk dat die geskikste tyd hiervoor direk ná skool of vroeg in die middag is. Talle ouers en versorgers kom egter in die aande laat by die huis.
In so ʼn geval kan jy jou kind aanmoedig om TIME-aktiwiteite te doen terwyl ʼn ouer kind ook werk. Jy kan dit ook net voor bedtyd doen wanneer die dag se verantwoordelikhede amper verby is, maar dit is nie ʼn moet dit nie doen as jou kind moeg is nie. Elke huis verskil, en jy sal sien wat die beste vir jou en jou gesin werk.
TIME Graad 1
Boodskap 20
Herfokus jou kind se aandag
Klik hieronder om na die teks te luister
Ons huise is besige plekke. As jy opmerk dat jou kind fokus tydens ʼn teken- of skryftaak verloor, kan jy haar aanmoedig deur te kyk na wat sy reeds gedoen het en te sê, “Ek hou van wat jy doen! Wat dink jy gaan jy daar doen?” Wys dan na die volgende ding wat sy moet doen. As jou kind tydens die storie of die luistertaak fokus verloor, kan jy:
● geduldig herhaal wat jy so pas gesê het;
● haar daaraan herinner dat daar net ʼn paar vrae is en dan is sy klaar; en
● vir haar sê sy werk goed, al is dit soms moeilik om te fokus.
TIME Graad 1
Boodskap 21
Kinders moet weet hoe letters lyk en watter klank elkeen maak om lesers en skrywers te kan word.
Klik hieronder om na die teks te luister
Wys na die prente op die alfabetkaart en luister hoe die eerste klank of fokusklank van die woord gesê word.
Om seker te maak jy sê elke klank reg, sê die woord hardop. Jy sal die klank van die letter duidelik kan hoor. Probeer dit gerus!
TIME Graad 1
Boodskap 22
Luister saam na die storie ‘Die leeu en die muis’.
Klik hieronder om na die storie te luister
TIME Graad 1
Boodskap 23
Jy hoef nie die onderwyser te wees nie.
Klik hieronder om na die teks te luister
Met TIME-aktiwiteite wat tuis gedoen word, oefen jou kind vaardighede wat hy by die skool geleer het. Moedig jou kind aan terwyl hy werk wanneer hy vordering maak en moenie te veel op sy foute wys of hom reghelp nie.
Sê dinge soos, “Jy het hard probeer,” “Mooi gedoen!” of “Probeer nog een keer – jy gaan dit regkry!” As jou kind regtig met iets sukkel, laat sy onderwyser weet wat jy by die huis opmerk. Die onderwyser sal dit waardeer dat jy tyd met jou kind deurbring en sal hom help as hy verdere ondersteuning benodig.
TIME Graad 1
Boodskap 24
ʼn Goeie manier om jou kind se selfvertroue te ontwikkel, is om woorde te oefen wat hy dikwels sal sien.
Klik hieronder om na die teks te luister
Party woorde kom meer gereeld as ander voor. Jou kind sal makliker leer lees as hy hierdie woorde kan herken, so dit is ʼn goeie idee om hierdie woorde oor en oor te oefen.
As jou kind sukkel, help hom om net die eerste klank van die woord te lees en sê dan vir hom die woord.
Click below to watch video of how to play the game.
Please find the game board in the Time materials pack that you already have received.
TIME Graad 1
Boodskap 25
Jou kind sal telaktiwiteite baie geniet en dit help haar om die volgorde van getalle te onthou.
Klik hieronder om na die teks te luister
Jy kan jou kind help om getalname te leer deur getalrympies op te sê en aksieliedjies saam met haar te sing. Laat haar een vir een na elke voorwerp in ʼn groep wys en sê hoeveel daar altesaam is.
Oefen om vorentoe en agtertoe in 1’s en dan in 2’s, 5’s en 10’s te tel. Dit sal jou kind help om voorwerpe te groepeer sodat sy vinniger kan tel.
TIME Graad 1
Boodskap 26
Wel gedaan! Julle is een van die duisende gesinne wat die TIME-tuisleerprogram gebruik. Ons het dit geniet om hierdie reis met jou te deel en ons hoop jy sluit weer in 2022 by ons aan vir die Graad 1 TIME-program!
Klik hieronder om na die teks te luister
Ouers vertel vir ons dat die TIME-hulpbronne hulle gehelp het om ʼn band met hul kind te vorm. “Die pakkette help ons om saam stiltetyd te hou”, sê een ouer. “Danksy TIME leer ek my kind beter ken.” Die TIME-materiale help ook om ʼn gelukkiger kind te ontwikkel wat meer selfvertroue het en beter kan konsentreer.
Een ouer sê, “My kind verwelkom my eerste met huiswerk wanneer ek van die werk af kom. Hy kan ook nou die instruksies baie goed volg. Hy is spraaksamer, vrolik en vry.”
Ons hoop dat jy ook die TIME-program nuttig gevind het en ons hoor graag van jou. Deel gerus jou gedagtes op ons kommentaarvorm in die TIME-afdeling op ons Wordworks-webtuiste.
Ons bied nie ʼn TIME-program vir Graad 2 aan nie, maar jy kan weer die 2021-pakkette gebruik en weer party van die aktiwiteite met jou kind doen. Herhaling is uitstekend vir leer!